Skip to the content

Tiener-“regte“ en reëls: hoe om jou saak slim te stel

Op 21 Maart vier ons Menseregtedag – ‘n herinnering dat almal regte het, insluitend tieners. Maar as jy ooit ‘n skoolreël onregverdig gevind het, het jy seker gewonder: Het ek regte as ek steeds onder skool- en huisreëls val? Die kort antwoord is ja – maar regte kom met verantwoordelikheid. Dit beteken nie jy kan net doen wat jy wil nie, maar dit beteken ook nie dat jy alles net moet aanvaar sonder om vrae te vra nie.

Het jy al ooit gevoel ‘n reël is net daar om jou lewe moeilik te maak? Soos ‘n onderwyser wat nie fone in die klas toelaat nie, al het jy dit nodig vir skoolwerk. Of ‘n ouer wat vir jou ‘n belaglike slaaptyd gee terwyl jy nog hope huiswerk het? Dit kan vreeslik frustrerend wees. Maar hier’s die ding: As jy regtig dink ‘n reël is onregverdig, het jy die reg om jou stem te laat hoor – maar op ‘n slim manier, sodat mense luister en nie net hulle oë rol nie. As jy jou punt reg stel, kan jy dalk verandering bring sonder om in die moeilikheid te beland. Hier is hoe jy dit kan aanpak:

  1. Vind uit hoekom die reël bestaan

Voor jy oorlog verklaar, vra jouself eers: Hoekom is hierdie reël daar? Is dit omdat iemand dit net besluit het, of is daar ‘n geldige rede? Miskien mag julle nie selfone in die klas hê nie omdat leerders se aandag dan meer op TikTok is as op die werk. Dit maak dalk sin. Maar as ‘n reël glad nie logies klink nie, is dit dalk tyd om daaroor te praat en die regte feite te kry.

  1. Is dit net vir jou lastig, of vir almal?

Is jy net geïrriteerd omdat dit jou nie pas nie, of is dit regtig onregverdig vir almal? Byvoorbeeld, as sommige leerders ekstra tyd kry vir toetse en ander nie, al het hulle dieselfde uitdagings, voel dit dalk onregverdig. Of as net sekere sportspanne toegang tot die beste toerusting en afrigting kry terwyl ander afgeskeep word, kan dit lyk asof daar ongelykheid is. Maar as jy net moeg is vir die skool se streng haarstyl, is dit dalk nie ‘n stryd werd nie.

  1. Kom met ‘n ordentlike argument

As jy net gaan sê: “dis so onnodig!” of “ek hou niks daarvan nie”, gaan niemand jou ernstig opneem nie. Stel eerder ‘n logiese punt. Byvoorbeeld, in plaas daarvan om te kla: “dis belaglik dat ons nie pouses in die gange mag staan nie”, kan jy liewer sê: “kan ons nie eerder spesifieke areas kry waar ons mag kuier sonder om die vloei van verkeer te blokkeer nie?” Dit wys dat jy nie net die rede agter die reël verstaan nie, maar dat jy ook ‘n redelike alternatief voorstel. Dieselfde geld vir iets soos streng kleredragreëls – verstaan eers die rede vir die reël, en wees dan deel van die oplossing.

  1. Wag vir die regte oomblik

Tydsberekening is alles. As jy midde-in ‘n wiskundeperiode jou saak wil stel, gaan jy waarskynlik net ‘n lelike kyk van jou juffrou kry. Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n geldige punt maak en eenvoudig rebels voorkom.

Kies eerder ‘n kalm oomblik wanneer mense regtig kan luister. Byvoorbeeld, as jy ‘n probleem met ‘n skoolreël het, spreek dit eerder aan ná klas of vra om ‘n kort vergadering met ‘n onderwyser of ‘n leerlingraadlid te hê. Selfs ‘n goed geformuleerde e-pos of ‘n vriendelike gesprek na skool kan ‘n beter reaksie kry as ‘n emosionele uitbarsting op ‘n slegte tyd.

  1. Vermy die drama

As jy elke reël as ‘n persoonlike aanval sien, gaan mense jou nie ernstig opneem nie. Niemand is lus vir drama nie, veral nie onderwysers of ouers nie. Benader die situasie kalm en rasioneel. Hoe rustiger en logieser jy is, hoe groter is die kans dat mense jou sal hoor. Emosionele reaksies lok net oogrolle uit, maar ‘n redelike benadering kan jou help om jou punt te maak.

  1. Help dink aan ‘n oplossing

Moet nie net kla nie – kom met ‘n praktiese oplossing. As jy dink sekere reëls is te streng, stel ‘n alternatief voor wat vir almal aanvaarbaar is. Mense sal eerder luister as jy ‘n konstruktiewe plan het, eerder as net 'n klagte.

  1. Soms wen jy, soms nie – en dis reg so

Jy gaan nie altyd kry wat jy wil hê nie, maak vrede daarmee. Die wêreld werk nie altyd op jou terme nie, en soms sal jy dalk nie die verandering kry waarop jy hoop nie. Maar dit beteken nie dat jy moet opgee nie. Dit is belangrik om steeds op te staan vir wat reg is, maar ook om te aanvaar dat nie alles altyd in jou guns sal werk nie. Sommige reëls sal nie verander nie (of jy moet eers ouer word voor jy dit verstaan), en dit is deel van die proses van volwassenheid – om te leer wat jy kan verander, en wat nie.

  1.  Gebruik jou stem slim

Menseregtedag herinner ons aan ons reg om op te staan en vir onsself te praat, maar dit beteken nie elke reël moet bevraagteken word nie. Dit gaan oor weet wanneer om jou stem te gebruik en hoe om jou punt respekvol uit te druk. As jy voel iets is onregverdig, ondersoek dit, maar doen dit op ‘n kalm en logiese manier. Jou reg om te praat (veral as ‘n kind) kom met ‘n groot verantwoordelikheid om dit slim aan te wend. Wanneer jy respekvol optree, sal mense nie net jou punt waardeer nie, maar ook die waarde van wat jy sê – en jy sal ander inspireer om dieselfde te doen.

ATKV-Oorde

Surreylaan 348
Randburg
Gauteng
Suid-Afrika

E-posadres: 
oordedigitaal@atkv.org.za
Besprekings: 
+27(011) 919 9092