Skip to the content

Afrikiti: ʼn Smeltkroes van Afrikaanse kultuur

ATKV-Afrikiti – die grootste makietie in Noordwes – is die afgelope naweek vir die derde keer by ATKV-Buffelspoort in die Magaliesberg-area gehou, en vanjaar se fees was die grootste ooit.

Sedert ATKV-Buffelspoort in 2022 die gasheer vir die eerste fees was, het dit uitgebrei na ʼn landswye inisiatief wat nou ook by ander ATKV-oorde aangebied word.

Sowat 2 000 mense het die eerste fees bygewoon. In 2023 het die getal gegroei na 3 400, en volgens Reyno Wepener, feesorganiseerder en bemarkingsbestuurder van ATKV-Buffelspoort, het die aantal feesgangers wat vanjaar se Afrikiti-fees bygewoon het, meer as verdubbel sedert die eerste jaar.

“Ons ontleed nog die finale getalle, maar ʼn konserwatiewe skatting plaas ons besoekerstal op net oor die 5 000,” het Wepener Maandag bevestig.

“Die oord was die naweek vol bespreek, wat alreeds vir sowat 2 400 besoekers gesorg het.”

By die fees word die volle spektrum van die Afrikaanse taal en kultuur op grootse wyse gevier ‒ met die gemeenskap as spilpunt. “By die Afrikiti-fees is almal welkom. Die doel is om die Afrikaanse taal en kultuur so toeganklik moontlik te maak, terwyl ons gemeenskapsbande versterk deur die betrokkenheid van ATKV-lede en -takke,” sê Reyno Wepener, bemarker en vermaakkoördineerder by ATKV-Buffelspoort.

Hy verwys tong-in-die-kies na die feeste as “multikulturele brûe onder konstruksie”. Elke jaar nooi hy ʼn ander kultuurgroep om op te tree. In die eerste twee jaar het Tswana-kore en ʼn Marimba-orkes opgetree, en vanjaar het die Benoni High School Pipe Band met hul doedelsakke die Skotse hooglande na die Magaliesberge gebring. Vir volgende jaar beplan Wepener om ʼn Zoeloe-gumboot-dansgroep te nooi. “Die doel is om verskillende kulture ten toon te stel en respek vir mekaar te kweek, sodat almal dit saam kan geniet,” verduidelik hy.

Wepener meen die fees vang die kern van kultuur vas. “Volgens die ATKV is kultuur alles wat jy doen om by jou omgewing aan te pas. Hierdie idee vorm die boustene van die Afrikiti-fees, wat alles insluit ‒ van erfenis, kos en drank, tot die uitvoerende en beeldende kunste, soos kore en musiekopvoerings. Ons het al selfs slangvertonings gehad,” sê hy.

Feesgangers kon ook bladskud met ʼn Binnelanders-ster, terwyl die klap van swepe oor die feesterrein weergalm het. Die plaaslike skole en kleuters se kore en dansgroepe het hul talente ten toon gestel, en feesgangers het behoorlik gesmul aan tradisionele kermiskos soos kerrie en rys, sosaties en diepgebraaide oliebolle.

Motorliefhebbers kon hulle verlustig in ʼn versameling klassieke motors, terwyl die rugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks op ʼn grootskerm vertoon is – met die Springbokke wat uiteindelik met die Vryheidsbeker weggestap het. Daarna het gaskunstenaars ‒ Dirk van der Westhuizen, Appel, en Ouderdoos ‒ gesorg dat die feesvieringe voortduur.

Met ’n verskeidenheid aktiwiteite ‒ van kos en kuns tot sport en musiek ‒ maak vanjaar se ATKV-Afrikiti ’n mens reeds opgewonde oor volgende jaar se nog groter en nog beter fees.  

Hou gerus die sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor ATKV-Afrikiti by ander ATKV-oorde.

ATKV-Oorde

Surreylaan 348
Randburg
Gauteng
Suid-Afrika

E-posadres: 
oordedigitaal@atkv.org.za
Besprekings: 
+27(011) 919 9092