Hy het vir 30 jaar daar gewerk voordat hy in 1985 afgetree het.
Oom Johan en sy vrou, Suzie (80), bly al vir die afgelope 15 jaar in Nigel.
“Ek onthou nog hoekom ek by die ATKV aangesluit het. Dit was vir die vakansieoorde. ’n Man op die spoorweg werk hard en ons kort ook ’n vakansie,” sê hy en lag.
Hy sê hulle was veral gek oor ATKV-Buffelspoort en -Goudini Spa in Rawsonville in die Wes-Kaap.
“As ek verlof gehad het, het ek en my gesin na een van die oorde toe gegaan. Die atmosfeer was altyd heerlik. Jy kon daar rus vir jou siel kry.
“Ek kan nog onthou as dit vrugteseisoen was. Dan was daar ’n houtwaentjie vol perskes en appels by Goudini se ingang. Jy kon vir jou soveel vrugte vat as wat jy wou. Goudini Spa was altyd vir my die pragtigste.
“Dit was baie lekker tye. Ek is nie vir een oomblik spyt dat ek by die ATKV aangesluit het nie. Ons het baie vriende deur die organisasie gemaak en altyd in die swembaddens baljaar en gebraai.”
Hy en tannie Suzie was ook aktief betrokke by die ATKV-tak Ladismith waar hulle gewoon het.
Tannie Suzie was vir 30 jaar deel van ATKV-DAMES se tak in die dorp.
“Ons het gewerk dat dit klap,” sê sy.
“Ons het verskeie basaars gereël om geld vir die tak in te samel en om ook ’n kookboek vir ATKV-DAMES uit te gee. Dit was opwindende tye. Ons het nooit stilgesit nie,” vertel sy.
Tannie Suzie kom met twee balkies te voorskyn.
“Elke dekade wat jy deel van ATKV-DAMES was, het jy ’n balkie gekry. Ek het die
10-jaarbalkie en die 20-jaarbalkie gekry, maar in my 30ste jaar by die ATKV het ons getrek en ek het helaas nie die balkie ontvang nie.”
In die tyd wat hulle aktief betrokke by die ATKV was, het hulle ook ses van die ATKV se destydse jaarlikse kongresse bygewoon. Vandag heet dit algemene jaarvergaderings.
“Ek onthou nog in die vroeë 90’s was Nelson Mandela een van die gassprekers. Almal in die vertrek het soos een man opgestaan toe hy op die verhoog verskyn.
“Ons het gesien hoe voorsitters van die ATKV kom en gaan.”
En wat mis hulle die meeste van die ATKV?
“Ek dink die samehorigheid. Jy het deel van ’n familie gevoel,” sê oom Johan.
“Ons almal het een doel voor oë gehad, om ons taal en ons erfenis te beskerm.”
Foto aangeheg: Oom Johan van Deventer en sy vrou, tannie Suzie.