“InAfrikaans is uniek, omdat elke jaar anders is in aanbieding wat bydra tot ‘n ongelooflike atmosfeer wat 'n mens nét in Hartenbos vind. Daar is 'n gemoedelikheid tussen die vakansiegangers en almal geniet dit saam in vakansie luim. Daar is gewoonlik 'n goeie balans tussen bekende en onbekende sangers en persoonlikhede wat die platform gegun word om aan 'n nasionale gehoor bekend gestel te word”, vertel Johan Vorster, stigter van Inhoud Huis Media.
Inhoud Huis spesialiseer ondermeer in die produksie van musiek, films asook televisie programme. Johan en sy span is ook dromers wat doen en kan enige kreatiewe idee, ‘n werklikheid maak! Die proses om ‘n konsertreeks soos dié aanmekaar te sit, vereis deeglike beplanning en harde werk regdeur die jaar. “Ek en Jacomien de Villiers skakel direk met die kreatiewe span van Inhoud Huis saam met die musikale direkteur, Matthys Maree, en die konsertregisseur, Carien Loubser. Ons almal sit saam met die ATKV-Oorde, koppe bymekaar en sit dan die bal aan die rol. Ons betroubare span reis elke jaar na ATKV-Hartenbos om te help met al die voorbereiding”, vertel Johan.
“Die mense stroom in hier by Hartenbos en almal is opgewonde! Ek kan nie wag vir Jo Black en Karen Zoid se optrede nie. Die atmosfeer is iets ongelooflik en almal het ‘n glimlag op die gesig”, vertel Terick Mostert, een van die vele konsertgangers. Francois, een van die ander konsertgangers, meen dat hy al vir sy tweede jaar by InAfrikaans kom kuier het. “Die atmosfeer en vakansiegevoel is een van die hoofredes hoekom ek wéér hier is. Tasché is ook nuut op die verhoog en ek wou nog altyd een van haar optredes bygewoon het”.