Ons het gepak, my ouma en oupa het saamgekom. My oupa het so paar dae tevore ’n waatlemoen gekoop en in sy yskas gebêre waaraan hy ons kort-kort herinner het. Hoe eenvoudig was die lewe toe nie. Dat die reuk van chloor, waatlemoen en pas gesnyde gras op ’n Vrydagmiddag soveel bekoring kon inhou …
My ma-hulle het ons by die skool kom oplaai en ons het direk van daar af gery. Dit is seker so twee ure se ry van Hartbeespoort af waar ons gewoon het en ons kon ons opwinding nie beteuel nie. Daar gekom het ons vinnig in die rondawel uitgepak en afgesit swembad toe. Ek kan nie eintlik onthou op watter dag van daardie naweek my pa my uiteindelik alleen kon laat swem het nie, en of ek op daardie vakansie toe wel die Supertube alleen kon bestyg nie. Ek weet net dit was die begin van vryheid en op ’n manier die einde van geborgenheid.
Vele trips het gevolg en ek onthou spesifiek hoe ek en my ouma een oggend kort ná my oupa se dood in 2005 tot vieruur die oggend gesit en gesels het oor hom – op die stoep van ’n rondawel wat ons gedeel het by Buffelspoort.
Daar was ’n middernagswem in Goudini se warm water een winter voor my tannie se troue in Worcester, meisies en kampe en verlief raak en eerste biere (toe ons eindelik oud genoeg word) en vriende wat skelm rook en amper ’n vuisgeveg met Eden-ondersteuners. Daar was jol en lawaai maak en stilgemaak word deur kwaai omies (en my pa wat eenkeer iemand om tweeuur die nag hul Stoutgattreffers laat afsit het). Ek het laataand verlief geraak op ’n meisie van Vanderbijlpark in die warmwaterswembad by Klein-Kariba. Ja, harte is verloor en ons het ophou tel hoeveel keer ons by die Supertube afgaan. Daar was krieket kyk en speel, draairoomyse en lekker eet op daai ou stoep by Buffelspoort waar dit steeds soms voel of Paul Kruger enige tyd verby gery kan kom op sy koets op pad Rustenburg toe.
Maar niks was, vreemd genoeg, ooit weer so soet of lekker soos daardie waatlemoen van my oupa op my eerste vakansie by Klein-Kariba in die somer van 1989 nie.