Skip to the content
Neil Sandilands

Kampeerherinneringe uit Hollywood…

Neil Sandilands is al lankal nie meer Bart van die Deli in 7de Laan nie. Jy sal hom deesdae sien skouers skuur met akteurs soos Tom Hanks, regisseurs soos Michael Bay of in ’n superheldpak terwyl hy The Flash opdraande gee as The Thinker in die gelyknamige televisiereeks. So af en toe maak hy steeds ’n draai in Suid-Afrika en ons het by hom gaan aanklop oor sy gunstelingkampstories. Soos te verwagte, het van die ATKV se oorde opgeduik. Want hoe dan anders? Is dit nie maar deel van almal se kampherinneringe nie? Hier is Neil aan die woord

Kyk, ons was karavaanmense. Kampeermense. Nie dat ons by tye, ter wille van Ma en indien die ekonomie dit toegelaat het, ook die relatiewe gemak van ’n rondawel of selfs beter, ’n chalet, kon geniet nie. My voorkeur was egter die karavaan, met die tent (later twee add-a-rooms), iewers nuuts en godswil, onder skadu. ’n Kragpunt was ’n bysaak. Noem dit vrywillige beurtkrag. Ek wil ook byvoeg dat een van my eerste geskenke op aanvraag so klein, groen tweemantentjie was, en ek het menigmaal sommer daar in die dorp Randfontein, die gedoente staangemaak vir die nag. Reg langs die huis. Die gogga het vroeg gebyt.

Rustenburg Kloof, Dragon’s Peak, Zinkwasi, Rob Ferreira, Die Eiland, Badplaas, Goudini Spa, Santos by Mosselbaai, die Bloudam tussen Randfontein en Westonaria; ons was daar. Selfs die naamplakkertjies wat mens aan die binnekant van die karavaanvenster plak, versamel.

Hmmm, plakkertjieskamp ...

Daai tyd was jy of Jurgens-, of Sprite-mense. Miskien ’n vroeë kennismaking met die dualiteit wat nog altyd binne die Afrikaanse psige bestaan? Dit het my min geskeel, ek was meer geïnteresseerd in hoe mense die leefruimte ingerig het en wat hulle met tyd aangevang het. Ek geniet dit om hier met van ons groepering se denkers en digters te verskil: “Ons is juis so” in pleks van “Ons is nie almal so nie”. Omarm dualisme, just saying. 

Dis moeilik om daaroor te skryf en dit nie ’n aanbieding van vergelykende analise of dan bloot net, jou eie sentimentele nostalgie te maak nie. Kom ons erken dit maar – dit was ’n ander tyd. Om mee te begin was die rand nie moer toe nie. Ek staan verstar dat my ouers dit enigsins kon regkry om ons kinders daai avonture te kon bied. Ek sien op Eiland Spa se webwerf onmiddellik die benaming “toevlugsoord”. Interessante woordkeuse. Dit skep die verwagting van ’n bestemming wat iets bied tussen ontvlugting en toestroming. Almal hardloop weg van iets af, na iets toe, miskien? Moet mens instromingsbeheer toepas? Maar, intussen, kom ons onthou:

Wat is die Afrikaanse woord vir “trigger”? Dit sneller ’n rits nie-so-arbitrêre gedagtes; elk ’n konsep op sigself: “Baby makes her blue jeans talk”, BZN, VanneMerwehoeke, ablusieblokke, potjie, skelm vry, puisies, foefieslides, supatube, Joof en sy maats, swembadspeletjies, vermaaklikheidsprogramme, karkrieket. Die lys gaan aan en elkeen se lys sal anders wees; myne nie ’n uitsondering nie. Georganiseerde pret. Daar was egter iets anders, miskien die rede hoekom kampeervakansies so ’n geweldige indruk op my psige gelaat het: Die onmiddellike nabyheid om so saam met jou mense te leef. Primitief. Eenvoudig. Intiem. Desondanks interne politiek, was die tydsbesteding iets van waarde. Daar was ’n geweldige trots as die kamp ordentlik opgeslaan is met Oupa se handgemaakte tentpenne. Om saam kos te maak. Om sonbrandolie op Ma se rug te vryf, te besef Pa het beslis ’n geweldige snork, die dag toe Mervan deur ’n by gesteek word en ons toe eers besef hy is allergies, Rae-Dawn wat haarself met ’n muskiet-coil gebrand het, ek wat my voortand stukkend gebreek het op die trampolienraam deur my oorgretige bollemakiesies. We kept it together. 

Niel Sandilands

Die Ingilse het so half neerhalend na ons gekyk as kômmin, maar dit was orraait want jy sou in elk geval ’n Ingilsman donner bloot omdat hy Ingils was tot jy die Ingilsman ontmoet wat jou snorgrootte is. Respek. Dit was ’n ander tyd. Die jammerte was dat mens eers weer mens word ná so drie weke op daai kamp. Vandag is ons en die Ingilse so half maatjies. Bondgenote in die struweling teen verval.

1980. Min of meer ook my eerste bewustelike herinnering van die see, hoewel ek reeds as baba die ontsettende vreugde beleef het. Oop arms teen hoë snelheid uitbundig tromp-op die branders in.  Een van ons laaste takies by die toevlugsoord, as dit naby die see was, was om ’n bottel seewater vir Mierkas te kry. Sy’t in die oggende medisynemates daarvan gedrink vir purgasie. Dan was dit terug Randfontein toe vir onderwys en mynbou. Beide sektore funksioneel in ’n disfunksionele samelewing. Of maybe andersom? Maybe dubbel disfunksioneel? Maybe just life?

Om te spaar vir die volgende vakansie.

Kan mens nie maar net lewe soos wanneer jy op vakansie is nie? Eenvoudig. Ek weet in Afrikaans praat mens van “met” vakansie, maar ek verkies “op” want dis soos ’n “high”.

As die hele skrywe dien as verfdoek waarop ek dit moet distilleer tot enkele oomblikke, sal drie my altyd bybly. Die geelvisparadys wat ek in een van die sytakke van die Vaalrivier ontdek het. Christiana se wêreld. Alles wat ek weet van visvang kom van Oupa en Pa af en die oomblik was volbring. Jong avonturier, solo, kniediep in ’n rivier in Donker Afrika. Smells like victory. Die aand toe ek en Frances gevroetel het. Lewe sou nooit weer dieselfde wees nie. Doen jouself die onguns en vat die afdraai op daai pad tussen Randfontein en Westonaria na daai ander Bloudam. Dis nie ’n vakansie nie.

Als gesê en gedaan beskou ek dit nou, alles, met ’n oorweldigende regmerkie. Tevrede met elke oomblik.

Ek dink nou aan daai foto wat ek gesien het van glimlaggende kinders in die Gaza-strook. Ek dink aan Stephen King se aanhaling: “I never had any friends later on like the ones I had when I was twelve.” 

ATKV-Oorde

Surreylaan 348
Randburg
Gauteng
Suid-Afrika

E-posadres: 
oordedigitaal@atkv.org.za
Besprekings: 
+27(011) 919 9092