Skip to the content
clouds with sunlight behind them

Agter die wolke skyn tog die son…

Ons lewer ’n diens by die ATKV. Dis ons werk en plig om mense te laat ontspan. Om hulle hul skoene te laat uitskop en hulle te help om vir ’n oomblik te vergeet van werk, stres en die roetine van die alledaagse lewe. Op ’n manier gee ons mense dalk weer hoop. Ons herlaai batterye. Ons skep herinneringe wat mense vir jare saam met hulle dra. Dalk help ons om familiebande te versterk, om nuwe vriendskappe te smee. So, in hierdie onseker tyd, is dit steeds ons plig om mense te help ontspan, al is hulle ver weg, afgesonder in hul huise en verwyder van familie. Daar word te veel gefokus op die negatiewe, maar as jy mooi kyk, sal jy die positiewe raak sien.

Daar is oral hoop in hierdie onseker tyd. Dit kom soms van die vreemdste plekke af. Daar is gewone mense wat aanbied om bejaardes te help – al is dit net om vir hulle inkopies te doen. Daar is besighede wat reuse skenkings aan welwillendheidsorganisasies maak. Daar is die Italianers wat musiek maak en van hul balkonne af vir hul bure sing. Daar is die wêreldwye heldeverering vir die mediese personeel – ek dink spesifiek aan ’n supermarkgroep in Engeland wat spesiaal vir hulle oopgemaak het, sodat hulle kos en ander voorraad kan koop. Of, wat van die mense wat teddiebere in hul vensters gesit het sodat die kinders daarna kan kyk as hulle gaan stap? Of dié wat reënboë geverf het en dit teen hul vensters geplak het om bystanders hoop toe te wens?

Hierdie tyd van isolasie is frustrerend vir almal, maar dalk is dit tyd om ʼn bietjie perspektief te kry. Almal se lewens is so gejaagd dat daar amper nooit meer tyd is om te gesels – régtig te gesels – en om ’n paar projekte saam aan te pak nie. Bou ’n legkaart. Lees daai boek wat al vir weke op jou bedkassie wag. Sit ’n hand by waar jy kan. Dalk is hierdie kwarantyn nodiger as wat jy dink en kom daar goeie dinge daar uit.

Ons hoop en bid dat die einde in sig is, en as daai dag aanbreek, sal jou gunsteling ATKV-oord reg staan om weer goeie herinneringe saam met jou te maak.

ATKV-Oorde

Surreylaan 348
Randburg
Gauteng
Suid-Afrika

E-posadres: 
oordedigitaal@atkv.org.za
Besprekings: 
+27(011) 919 9092