Skip to the content
Camping illustration

Kampwenke vir ’n ATKV-oordvakansie

“Kamp is ’n mooiweersding”, het ek my pa altyd hoor sê.

Dit was dalk ná een van ons woonwavakansies toe dit die hele naweek deur gereën het. Ons moes maar in ons Caravette 6-woonwa sit en kaart speel. Ek dink ons was naby aan gesinsmoord met my broer wat die heeltyd gekul het. Ek het ook ’n ander kant van my ouma gesien oor daai twee dae in isolasie – en dit was nie haar vriendelike kant nie. Maar ongure weer is nie die enigste ding wat ’n kampvakansie kan versuur nie, hetsy jy met ’n woonwa gaan kamp of met ’n tent. Daar is beslis ’n paar voorsorgmaatreëls wat jy kan tref om te voorkom dat die klein jakkalsies jou kampplek verniel.

Voor jy vertrek, maak seker dat:

  • Alles toe is – koelhouers, die yskas en alle houers van enige aard. Jy wil nie by die kampplek kom en die melk het uitgeloop nie.
  • Die gasbottel vol is. 
  • Jy ekstras van alles het wat kan breek of wegraak.

Gelukkig is die ATKV-oorde se winkels goed toegerus – koop eerder jou hout en ys daar om plek te bespaar.

Jou tent:

  • Ek kan die volgende maatreëls nie genoeg beklemtoon nie: Slaan eers jou tent op voordat jy die pad aandurf. Kyk of al die pale en penne daar is. Daar is niks erger as om by jou bestemming te kom en jy kort ’n paal nie. Jy sal dan een ten duurste moet gaan aanskaf by ’n handelaar in die naaste dorp (ás jy naby ’n dorp of handelaar is). Kyk ook of daar nie gate of skeurplekke in die tent is nie. Hy hang dalk al vir ’n wyle in die motorhuis en dien as ’n gerieflike blyplek vir rotte. As dit ’n nuwe tent is, slaan hom eers op voor jy met vakansie gaan. Jy wil nie ’n vakansie begin met familielede wat uit frustrasie op mekaar skree omdat niemand weet hoe om die tent op te slaan nie. 
  • Maak seker die tentvensters en ingang is toegerits as jy êrens heen gaan by jou kampplek. Niemand wil in ’n nat tent slaap as julle die aand terugkeer nie.
  • As jy op ’n opblaasmatras slaap, maak seker dat daar nie gaatjies in is nie en dat die matras behoorlik opblaas.
  • Belê in ’n kampbed om jou opblaasmatras op te sit. Jy is dan nie so naby aan die grond en die koue nie, en harige goggas sal nie so maklik op jou klim in die nag nie.
  • Moenie jou tasse en bagasie in die tent se hoeke pak nie – dit word eerste nat in die hoeke.
  • Babapoeier help om die miere weg te hou in die tent.
  • ’n Elektriese waaier is baie belangrik, veral as jy nie koelte by jou kampplek het nie. ’n Waaier help vir die ergste hitte as jy bietjie wil skuins lê in die middag. 
  • Pak maar ’n wolmussie in sodat die hitte nie deur jou kop kan ontsnap gedurende die nag as dit koud word nie.
  • ’n Skoppie en borsel is lekker nuttig as jy die tent of ingang wil uitvee – ook as jy die tent gaan afslaan.
  • Vat waterdigte Ziploc-plastieksakkies saam om jou kragproppe in te bêre. ’n Kortsluiting in die reën is nie ’n grap nie.
  • Maak seker die pale en penne is droog wanneer jy oppak en vertrek. Anders sit jy met ’n roesprobleem met jou volgende vakansie.

Jou staanplek:

  • Maak seker dat die grondoppervlakte  lekker glad en vry is van dorings, klippe of enigiets wat jou grondseil kan beskadig. Waak teen mierneste naby aan jou tent.
  • Maak seker dat jou staanplek ’n koelteboom  het. Anders gaan die Afrikason jou uitbraai!
  • Besluit ook hoe naby jy aan die ablusieblokke wil wees, veral as Ouma saamkom en dalk ’n  draai in die nag moet loop. Maar hou ook in gedagte dat daar soggens vroeg al ’n geraas gaan wees. 
  • Maak seker dat die kragpunte by jou staanplek werk.
  • Kyk uit vir waterlope.  As dit begin reën, wil jy nie hê dat ’n rivier deur jou staanplek moet loop nie.
  • Wees op die uitkyk vir oorhangtakke wat jou tent kan beskadig as die wind waai.
  • Hou die telefoonnommer van die oordbestuurder byderhand. Bel hom gerus as iemand te veel raas of onbetaamlik optree.

 

Kos, heerlike kos:

Soos ons almal weet – geëet sal daar geëet word. Ek sal nooit vergeet nie, ek was in standerd 9 saam met ’n vriend see toe. Sy pa het besluit om sy ma ’n ruskans weg van die kospotte af te gee. Toe braai hy letterlik soggens, smiddae en saans. Die braaivleis wou by my ore uitkom. Gelukkig kan jy baie van die sleurwerk vooraf doen:

  • Maak ’n gesellige pot sop gaar, vries dit dan en maak dit op die vuur warm vir ’n vinnige maaltyd.
  • Beskuit en nogmaals beskuit …  Vir die kinders terwyl hulle wag vir die braai, in die oggend met wakkerwordtyd – ’n welkome gaatjievuller wat enige tyd geniet kan word.
  • Kap die bestanddele van jou geregte by die huis op en sit dit in aparte sakkies. Jy kan selfs van die bestanddele voor die tyd gaarmaak.
  • Maak rys of noedels voor die tyd gaar, laat dit afkoel, sit dit in ’n plastiekhouer en gebruik  dit by die kampplek soos jy wil.

Dinge wat móét saamgaan:

  • Insekweerders. Kyk, om die hele nag rond te rol omdat muskiete jou opvreet, is nie lekker nie. Spuit jouself, of nog beter, kry een van daai muskietmatjies.
  • ’n Noodhulpkissie. Hoewel die ATKV-oorde goed toegerus is, is dit beter om iets byderhand te hê as Jannie tienuur in die aand op ’n bottelskerf trap op pad terug van die warmwaterswembad af.
  • Sonbrandmiddels. Dit gebeur altyd – jy vergeet die eerste dag om genoeg van die sonblok aan te smeer, net om die volgende paar dae les op te sê in die son. Of nog erger – jy moet swem met ’n T-hemp aan.
  • Bordspeletjies en kaarte. Vir daardie reënerige dae – en om te kyk of jou ouma ’n ander, bose kant het.
  • Flitse, batterye en koplampies. Want Eskom ontsien niemand nie.
  • Kerse.  Veral sitronellakerse wat ook sommer die muskiete weghou.
  • Vuurmaak- en braaitoebehore. Moet net nie die braairooster vergeet nie!

En laastens …

Kampvakansies kan van die wonderlikste vakansies wees met die beste herinneringe (veral vir die kleinspan). Maar hiervoor is twee baie belangrike dinge nodig: beplanning en spanwerk. 

Mens kan niks omtrent ongure weer doen nie. Tog kan jy voorsiening daarvoor maak ingeval dit wel gebeur. En die laaste ding wat jy wil hê is dat boetie en sussie baklei omdat die een kwansuis méér as die ander een moet doen.

En verder sal die ATKV-oorde vir die res van die goeie tye sorg!